top of page
image.png

Sonya Rademeyer se What Remains by Oliewenhuis Kunsmuseum

By:Warren Hawkins    Date: July 10, 2025

Screenshot 2025-11-08 at 11.39.53.png

Van links: Jemima Kola, Sonya "Mmakopano" Rademeyer, Lenosa Mahapang, Tshepo Rajake, Tshidiso Makhele, en Alex Kitchen, by die muur wat hul in die Oliewenhuis Reservoir gebou het.

FOTO: WARREN HAWKINS

Die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein verwelkom ’n besonderse uitstalling, What Remains Through Time, Slowness and Stillness, deur Sonya Rademeyer. Haar werk, wat diep gewortel is in kulturele verkenning en historiese refleksie, nooi besoekers uit om na te dink oor die verlede.

“Baie van my werk gaan oor die bou van brûe tussen kulture,” verduidelik Rademeyer. Sy benader haar kuns vanuit “’n voortrekker-setlaar posisie” en ondersoek die impak van kolonialisme op ons hedendaagse kultuur.

Die uitstalling het sy oorsprong in ’n 80-jaar oue familiefoto van haar pa se gesin. “Die foto het in my ‘studio’ gehang, en daar was een of ander insek wat aan die foto begin eet het en my ouma se gesig het begin wegraak,” sê sy. Hierdie stadige vernietiging het Rademeyer laat dink aan “historiese uitwissing” wat in die agtergrond plaasvind.

Die kunstenaar het verder navorsing gedoen oor die kulturele, omgewings-, sosiale en politieke implikasies hiervan. Sy vra dus: “Ons is 30 jaar in demokrasie, maar het ons al aanbeweeg?” Sy voeg by: “Ons is ’n reënboognasie, en 30 jaar verder, hoekom kan ons nie vorentoe beweeg nie? Ek dink dit is die krag van die kunste, ons kan dit aanspreek.”

Alhoewel What Remains ’n solo-uitstalling is, beklemtoon Rademeyer die waarde van samewerking. “Die eerste fase van die tentoonstelling is die bou van die muur,” vertel sy. Met die hulp van byna 40 vrywilligers het sy ’n muur in die Reservoir van Oliewenhuis opgerig, wat meer as drie weke geneem het om te voltooi. “Ons as een groep, en vrywilligers en mense van hierdie omgewing, het grond gevat van hierdie omgewing, gras gevat van hierdie omgewing en ons het hierdie kulturele muur gebou,” sê sy trots.

image.png

Sonya Rademeyer en haar span werk aan hul installasie. 


FOTO: WARREN HAWKINS

Die samewerking strek verder as net mense. Rademeyer het slakke van die Kaap gebring wat aan duur kunspapier geëet het om deel te vorm van die installasie. “Dit is die stille agtergrond ‘collaboration’,” verduidelik sy. “Die lewende slakke is ‘collaborators’, en is ewe aan ons. Ons is op ’n gelyke vlak as gelyke epistemiese vennote.”

Grond speel ook ’n sentrale rol in haar werk, geïnspireer deur haar kinderjare in Zimbabwe. “Ek het buite grootgeword, in die grond grootgeword,” sê Rademeyer. Sy glo dat as grond vereer kan word vir sy verbintenis met voorvaderlike en inheemse spiritualiteit, “sal ons sien grond is nie net ‘tuingrond’ nie.”

Op 15 Julie om 18:00 open die uitstalling amptelik met ’n lewendige optrede.

 

Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za

  • Grey Twitter Icon
  • Grey Facebook Icon
  • Instagram - Grey Circle

2025 / Sonya Rademeyer        ©Sonya Rademeyer. All rights reserved.

bottom of page